Man teen die luglyn
Man op die brug
Hoor hoe die water
Verleidelik sug
Soos 'n liggaam gereed
Vir ontvangenis
Van 'n stad se vergooides
Wat hunker en rus
'n Oomblik net hang hy
'n meeu aan 'n tak
en dan klief sy skedel
die modderbruin vlak
Die water klots hewig
Teen versinkte beton
En 'n lewe beur terug
Na sy eertydse bron
Altyd weer spronge
na vergetelheid
van misdeeldes, berooides
verstoot deur die tyd
'n Baggerboot vind hom
geswolle, beslyk
in 'n stad se annale
die soveelste lyk
Die water stroom voort
Van die grysbruin rivier
Wat vorentoe see word
en wegduin op wier
Maar ag, op 'n nag
Staan 'n man op die brug
En hoor hoe die water
Verleidelik sug...